À BRAKEL, WILHELMUS

À BRAKEL, WILHELMUS (1635–1711) is die seun van ds Theodorus à Brakel, ’n 17de-eeuse leraar wat besonder klem lê op piëtisme* en godsvrug. Nadat À Brakel aan die universiteite van Franeker en Utrecht studeer het, word hy tot die amp van predikant* toegelaat en bedien Exmorra (1662), Stavoren (1665), Harlingen (1670), Leeuwarden (1673) en Rotterdam (1683). In al dié gemeentes* staan hy bekend as ’n stryder vir die saak van die kerk*, selfs teen die stadsregering van Rotterdam. Hy was ’n leerling van en is sterk beïnvloed deur Gisbertus Voetius*, ’n Nederlandse en Calvinistiese* teoloog en voorstander van ’n ortodokse (Kyk by: Ortodoksie) en Calvinistiese teologie*. Hy skryf verskeie boeke, waarvan sy belangrikste werk De Redelijke Godsdienst is. Dit verskyn in 1700 en beleef in die 18de eeu twintig herdrukke. Dit is in 2003 opnuut in Nederland uitgegee en beleef drie herdrukke in twee jaar. Dit is nie ’n akademiese/teologiese boek nie, maar ’n eenvoudige handboek oor die Christelike lewe vir die gewone gelowige. Dit was gewild in Suid-Afrika en naas die Statebybel* ’n belangrike leerboek in die wakis van elke Voortrekker*.

Vir verdere lees: FJ Los 1892. Wilhelmus à Brakel. Proefskrif. J Overduin 1959. “À Brakel, W” in: FW Grosheide en GP Itterzon, Christelijke Encyclopedie, deel 2. Kampen: Kok.

Sidebar