AANBIDDING

AANBIDDING beteken om uitsluitlik aan God as Skepper, Verlosser en Regter eerbied te betoon (kyk onder andere na Eks 12:27; Op 4:11; 14:7). Die monoteïstiese (dit wil sê: geloof in net een God) en Christendom het verheerliking van ander gode en mense uitgesluit (Rom 1:23, 25; Hand 10:25 en volgende verse). Daarom word geen afbeelding van God toegelaat nie.

In die Ou Testament* beklemtoon Deut 6:14 dat Israel*2 bestaan as volk om God te dien en te eer. Jesus* siteer dié vers ook tydens sy versoeking* deur Satan* en onderstreep daarmee dat God alleen aanbid word (Luk 4:7-8). Vir Nuwe-Testamentiese* skrywers beteken die aanbidding van Jesus (bv Op 5:12, 16) nie ’n aantasting van die monoteïsme* nie. Jesus is die Seun van God met Goddelike volmag en in wie God handel (Matt 14:33). Jesus word veral uitdruklik ná die opstanding1* as teken van God se magshandeling aanbid (Matt 28:9, 17; Luk 24:52).

Aanbidding word veral deur ’n houding van gebed* uitgedruk. Dat aanbidding iets besonders is en ’n innerlike houding van verwondering en van aanvaarding van die wil* van God impliseer, word geïllustreer deur fisieke praktyke: iemand kniel (Fil 2:5-11), val plat op die grond (Hand 10:25-26; Op 22:8-9) of slaan die oë neer. Dit wys op ’n houding van ontsag, afhanklikheid en selfs van intimiteit. Die aanbidder is tot in die fisieke betrokke by die verhouding met God wat die menslike en die geskapene transendeer.

Aanbidding beteken ook deelname aan die erediens* (Joh 12:20). In die eerste bedeling vind dit veral in die tempel*4 plaas. Die eerste Christene* het wel nog vir hulle diens aan God die tempelgebruike nagekom (Hand 3:1) en daarin die familie van Jesus se voorbeeld gevolg (Luk 2:41). Nadat die tempel vernietig is, het hulle, soos hulle Joodse medegelowiges, ’n diens gehad wat aan die diens in die sinagoge* herinner het. Dit was ondenkbaar dat hulle in heidense* tempels met heidense rituele en offerandes* sou aanbid (Hand 7:48). Hulle aanbidding vind in ’n byeenkoms, meestal op ’n Sondag* as die dag van die opstanding, plaas. Dit het Skriflesing ingesluit (Luk 4:16), waarna ’n Skrifuitleg gevolg het (Luk 4:21). Daar was ook liedere, geloofsbelydenisse*, doksologieë*, spreek in tale* en profesieë* (bv 1 Kor 14:19). Daarbenewens is die sakramente* van die doop* (as reiniging van dit wat aanbidding verhinder) en nagmaal* (as gedagtenis aan wat aanbidding moontlik maak en behels) ’n wesentlike deel van die openbare aanbiddingsgeleenthede.

 

Sidebar