AARDE

AARDE. In Hebreeus is daar twee woorde wat as “aarde” vertaal kan word: 1. Eretz, wat ook vertaal kan word as land/landstreek, word byvoorbeeld in Gen 1 en ander skeppingstekste gebruik om te verwys na die aarde as God se skepping*. Die aarde word gesien as die bewoonbare skepping. 2. Adamah kan ook as “aarde” vertaal word, maar verwys primêr na (bewerkbare) grond. In die Nuwe Testament* word beide hierdie terme as vertaal, met soortgelyke betekenisskakerings.

Volgens die Israelitiese kosmologie* is die aarde daardie ruimte wat God tot stand gebring het. Die aarde verskaf daarom ook lewensmiddele aan die mens wat daarop leef. Die Ou-Testamentiese* mense het die skepping as ’n drieverdieping-werklikheid gesien, met die plat aardskyf as die belangrikste deel, maar verder ook met waters bokant en onderkant die aarde, en die verlate gebied van die doderyk onder die aarde.

Hoewel die hemele (meestal in meervoud) en aarde (meestal in enkelvoud) ook die kwalitatiewe onderskeid tussen God se domein en die mens se domein aandui, is dit veral in die Nuwe Testament* dat hierdie siening vollediger uitgewerk word. Daar word die aarde algaande geassosieer met die menslike en feilbare, terwyl die hemel verwys na die Goddelike en volmaakte. Uiteindelik is die hoop van Christen-gelowiges daarop gevestig dat die huidige hemel en aarde sal verdwyn (byvoorbeeld Op 20:11), en dat die nuwe hemel en aarde sal verskyn (Op 21:1). Dan sal die nuwe aarde ook volledig die gebied van God se teenwoordigheid wees.

 

Sidebar