AÄRON

AÄRON was die seun van Amram* en Jogebed* (Eks 6:19) en die broer van Moses* en Mirjam*. Hy maak vir die eerste keer sy verskyning in Eks 4:14 as “Aäron die Leviet*” en hy word aangesê om vir Moses te help aangesien hy “sy woord goed kan doen”. Hy speel by geleentheid die rol van towenaar* (Eks 7:9-13), maar sy vernaamste rol is om vir Moses by te staan. So hou hy bv saam met Hur* Moses se hande hoog in die oorlog teen die Amalekiete* (Eks 17:8-16) en klim hy saam met Moses Sinai*2 uit (Eks 19:24).

Wanneer Moses later saam met Josua* weer die berg uitklim (Eks 24:13), breek die laagtepunt van Aäron se “loopbaan” aan met die goue kalf*-episode in Eks 32. Nog ’n laagtepunt was beslis die dood van sy twee seuns, Nadab* en Abihu*, omdat hulle “ongeoorloofde vuur” vir die Here aangebied het (Lev 10).

In die priesterlike wetgewing van die Pentateug* dien Aäron altyd as die hoëpriester* en sy seuns as priesters*1 (Eks 28 en Lev 8) in die tabernakel*. Hy en sy seuns ontvang spesiale klere met bv twaalf stene in die borsplaat* (Eks 28:21) en met sakke vir die urim en tummim* (Eks 28:30). Die hoogtepunt van Aäron se priesterlike pligte was wanneer hy een maal per jaar die Allerheiligste* kon ingaan op die Groot Versoendag* (Lev 16).

Soos Moses, kon Aäron nie die beloofde land binnegaan nie. Hy het gesterf en is begrawe op Hor*-berg en sy seun Eleasar*2 het sy pligte oorgeneem (Num 20:22-29).

 

Sidebar