ABORSIE

ABORSIE is die doelbewuste verwydering van ’n lewende fetus uit die baarmoeder van die ma, met die wete dat die fetus nie daarbuite kan lewe nie. ’n Spontane aborsie word ’n miskraam genoem. In die jongste tyd het die mediese tegnologie dermate gevorder dat aborsies veiliger gedoen kan word, en die wetgewing wat al hoe meer toegeeflik raak, het aborsies in talle lande gewettig.

Vóór die aanvaarding van die wet op die beëindiging van swangerskap (1996) was aborsies in Suid-Afrika onwettig. Dit kon slegs deur ’n geneesheer in bepaalde omstandighede gedoen word. Sedert 1996 kan ’n aborsie gedurende die eerste twaalf weke van swangerskap op versoek van die vrou deur ’n geneesheer of ’n vroedvrou gedoen word. Ná die dertiende week mag slegs ’n geneesheer dit in gespesifiseerde omstandighede doen.

Histories was die Christendom* teen infantisiede (doodmaak van ’n kind) en teen aborsie op grond van die heiligheid* van menslike lewe wat na die beeld* van God geskep is. Moderne teoloë is verdeeld oor die vraag of aborsie soms geoorloof kan wees. In die jongste jare het drie standpunte na vore getree:

  1. Die Katolieke Kerk* staan die pro-lewe-standpunt voor saam met baie ander Christene* wat aan die absolute reg op lewe van die kind of fetus glo. Hulle sê dat aborsie op moord neerkom, omdat die fetus van die oomblik van bevrugting ’n lewende wese is. Hulle verwys na tekste soos Ps 139:13-16 en Jer 1:4-5.
  2. Aan die ander kant van die spektrum is die pro-keuse-siening wat deur minder Christene voorgestaan word. Hulle glo dat die verwagtende vrou – sonder om selfs die (vermeende) pa of ander familielede te raadpleeg – die reg het om te besluit of sy geboorte aan die kind wil gee of nie.
  3. ’n Derde groepering Christene stem wel toe tot beperkte, buitengewone en terapeutiese aborsie as die minste van twee euwels. Hulle glo dat aborsie geregverdig is wanneer, bv, die voortgesette swangerskap die gesondheid en lewe van die ma bedreig, wanneer dit duidelik is dat die baba met ernstige verminking gebore sal word of wanneer die swangerskap die gevolg van verkragting of bloedskande is.

 

Sidebar