ABRAHAM / ABRAM

ABRAHAM / ABRAM was ’n aartsvader* van Israel*2 (Gen 12–25). Hy was die seun van Tera*, afkomstig uit Ur* van die Galdeërs* (Noord-Mesopotamië). God roep hom uit Haran* met die opdrag om na Kanaän* te trek. God beloof aan hom ’n land, ’n nageslag en dat al die volke van die aarde in hom geseën sal word.

Abraham is bekend as ’n man van geloof*. Hy het die Here* gehoorsaam toe hy weggetrek het na ’n vreemde land en was later bereid om sy seun Isak* te offer*. Sy verhaal het ook episodes van twyfel, waar hy leuens vertel oor sy verbintenis met Sara* en instem om ’n kind, Ismael*, by Hagar* te verwek omdat Sara kinderloos bly.

God sluit ’n verbond* met Abraham en bevestig sy beloftes. Sy naam word verander van Abram na Abraham (“vader van baie”). Op ’n hoë ouderdom word hy en Sara die ouers van Isak. Abraham was ’n ryk man en het ’n semi-nomadiese leefstyl beoefen. Sy godsdiens was nie gebind aan ’n georganiseerde kultus (= stelsel van godsdienstige oortuigings en meegaande ritueel) nie.

Die volk Israel se identiteit is nou verbind aan die God van Abraham. Sy roeping* is die begin van God se verbondsgeskiedenis met Israel en die wêreld. Abraham is ’n belangrike historiese en teologiese persoonlikheid in die Judaïsme*, Christendom* en Islam*. In die Nuwe Testament* word God se roep van Abraham en sy reaksie daarop deur Paulus* voorgehou as die model van geloof (Gen 15:6; Rom 4:1-3). Hy word ook beskryf in die sg galery van geloofshelde (Heb 11:8-12, 17-19).

Daar is al baie geskryf oor die historisiteit van Abraham. Daar is geen verwysings na hom buite die Bybelse* literatuur nie. Met die hulp van argeologie* en die bestudering van die sosiale en kulturele gebruike wat in Genesis* voorkom, word hy in die Middel-Bronstyd tussen 2000 en 1700 vC geplaas.

 

Sidebar