ABSOLUTISME

ABSOLUTISME is die opvatting dat hoegenaamd geen uitsonderings gemaak kan word op morele reëls* of beginsels* nie. Dit kom tipies voor in samelewings wat finale gesag aan die een of ander tradisie, godsdiens, leier of instelling toeken. Gewoonlik word geen bespreking of bevraagtekening van die morele reëls of beginsels toegelaat nie, omdat dit as die enigste, volledige, en daarom ewigdurende en onveranderlike uitdrukking van morele waarheid* beskou word. Enige ander morele opvatting word daarom nie geduld nie, en eerder aktief beveg. In die strewe om morele reëls of beginsels volkome konsekwent toe te pas, lei absolutisme dikwels tot absurditeite, of die tirannie van ’n stel reëls wat blindelings toegepas word. Die ekstremisme van absolutisme kan vermy word deur altyd die doel van die reël of beginsel in ag te neem in die toepassing daarvan. Deontologiese benaderings (Kyk by: Deontologie) tot etiek word dikwels verwar met absolutisme, omdat eersgenoemde ook sterk klem lê op reëls, beginsels en plig. Deontologiese benaderings kwalifiseer egter die toepassings van reëls sodat gewoonlik aan die gevaar van absolutisme ontkom word. Die idee van fundamentele menseregte* word ook soms tot absolute morele vertrekpunt verhef. Onder die beste interpretasies word menseregte egter so ingeklee dat dit nie vatbaar is vir die uitwasse van absolutisme nie.

Vir verdere lees: G Silberbauer 1991. “Ethics in small-scale societies” en B Almond 1991. “Rights” in: Peter Singer (red), A Companion to Ethics. Oxford: Blackwell Publishers.

J Hattingh

Sidebar