ACKERMANN, DENISE MARY

ACKERMANN, DENISE MARY (1935–) behaal BA op Stellenbosch en ’n diploma in biblioteekkunde aan Unisa. In 1990 verwerf sy ’n doktorsgraad in die teologie* aan Unisa. In 1995 volg ’n doktorsgraad (met onderskeiding) aan die Episcopal Divinity School (VSA). Sy was professor in praktiese teologie aan die Universiteit Wes-Kaapland – die eerste vrou in Suid-Afrika wat ’n volle professoraat in die teologie beklee het – was besoekende professor aan die universiteite van Auckland en Harvard, en het gereeld aan die Universiteit Kaapstad klasgegee. Sy was ’n navorsingsvennoot aan die Center of Theological Inquiry in Princeton, lid van die Circle of Concerned African Women Theologians.

Ackermann is skrywer-redakteur van Women Hold Up the Sky, Liberating Practices en Claiming our Footprints, en is die skrywer van die hoogaangeskrewe After the Locusts – Letters from a Landscape of Faith en Surprised by the Man on the Borrowed Donkey waarvan Juliana Claassens sê: “This book speaks in a fresh way to anyone struggling to make sense of the paradoxes and perils of life … Wise and truly beautifully written.” Dit is in 2015 met die Andrew Murray-Desmond Tutuprys* bekroon.

Ackermann se navorsing fokus op hoe die Christelike geloof menslike waardigheid, vryheid en gelykheid kan bevorder. Vanuit ’n studie van die kloof tussen die Christelike geloof en praktyk, ontwikkel sy ’n feministiese* teologie wat dié kloof moet oorbrug.

Ná haar aftrede het sy nog geruime tyd voortgegaan met haar werk in geestelike begeleiding by die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit*.

 

Sidebar