ADAM

ADAM is volgens die Bybel* die eerste mens wat deur God geskep is (Gen 2:7). In Hebreeus* is daar ’n woordspeling tussen adam (mens) en adama (aarde/grond). Die kollektiewe term word in die Ou Testament* gebruik as verwysing na die mensdom, maar in Gen 2:4b–4:25 as eienaam vir die eerste mens.

Die mens is gevorm uit die stof van die grond. Die Hebreeuse* woord vir “vorm” dui op die handeling van ’n pottebakker. God het sy lewensasem in die mens geblaas. Adam is in die tuin van Eden* geplaas en is beveel om dit te bewerk en op te pas. God het vir hom ’n helper en gelyke, die vrou Eva*1, gemaak.

Saam met Eva was Adam ongehoorsaam aan die bevel van die Here* en het hulle geëet van die boom van alle kennis* (Gen 3). Hulle is verban uit die tuin van Eden en gestraf. Die man se straf was dat die aarde deur sy toedoen vervloek is en dat hy met swaarkry ’n bestaan daaruit sal maak. Die Joodse* en Christelike* interpretasiegeskiedenis van die teks plaas meer of minder klem op die rol van Adam tydens die eerste sonde*. Hy was ook ongehoorsaam en was nie bereid om skuld te erken nie. Hy het die vrou blameer vir die oortreding. Adam en Eva word ná die gebeurtenis die ouers van Kain*, Abel* en Set*.

Die verhaal van Adam val binne die Voorgeskiedenis* (Gen 1–11) wat bestaan uit verhale wat nie bedoel is om histories korrek te wees nie, maar geskryf is om sekere waarhede oor God en die mens uit te beeld. Adam en Eva is tekenend van die mens wat in opstand kom teen God en die grense oortree wat deur God daargestel is.

Adam as persoon figureer nie werklik in die res van die Ou Testament* nie, wel in later Joodse geskrifte en Christelike interpretasies. Adam se verhaal vorm die onderdeel van Paulus* se Adam-Christus-tipologie (Rom 5:21-21; 1 Kor 15:21-22, 45-49). Volgens Paulus het die sonde en dood deur die eerste Adam in die wêreld gekom, en Christus as die tweede Adam bring die opstanding* en die lewe. Die leer van die erfsonde* is afgelei uit hierdie tipologie (Rom 5:12).

 

Sidebar