ADAMS, JAY EDWARD

ADAMS, JAY EDWARD (1929–) is ’n boorling van Baltimore in die VSA. Hy behaal ’n BA (John Hopkins University), BD (Reformed Episcopal Seminary), STM in homiletiek (Temple University School of Theology) en ’n PhD (University of Missouri). Hy was predikant in verskeie Presbiteriaanse* gemeentes. Ná drie jaar by die Universiteit van Missouri, sluit hy in 1963 by Westminster Theological Seminary aan waar hy vir byna drie dekades werk, eers in Philadelphia en daarna in Escondido, Kalifornië. Hier is hy verantwoordelik vir die leergang in homiletiek* en pastoraat*.

In Suid-Afrika het Adams bekendheid verwerf as die grondlegger van noutetiese pastoraat. As ’n pastorale benadering (Kyk by: Pastorale sorg) wil dit deur ’n proses van konfrontasie die hulpsoeker tot verandering en gedragswysiging begelei. Pastoraat kry ’n vermanende karakter omdat die basis van alle menslike probleme hiervolgens sonde* is. Beoefenaars van ’n meer gebalanseerde pastorale benadering staan krities teenoor Adams, maar sy benadering moet verstaan word teen die agtergrond van die psigologisering van die pastoraat binne die Amerikaanse opset, wat veral onder invloed van Carl Rogers ’n non-direktiewe aanslag gekry het. Adams maak skeiding tussen pastoraat en ander vorms van hulpverlening. So sê Adams dat die pastoraat eie metodes uit Bybelse beginsels moet ontwikkel. Alleen ’n metode wat op die Bybel* gegrond is, is volgens hom in staat om mense met hulle probleme te help en geestelike groei te bevorder.

Vir verdere lees: JE Adams 1973. The Christian Counselor’s Manual: The Practice of Nouthetic Counseling. Grand Rapids: Zondervan. DJ Louw (1993) 1997. Pastoraat as vertolking en ontmoeting: Teologiese ontwerp vir ’n basisteorie, antropologie, metode en terapie. Kaapstad: Lux Verbi.

 

Sidebar