ADOPSIANISME

ADOPSIANISME is ’n dwaling wat sedert die 2de eeu van tyd tot tyd in die kerk* voorgekom het, en wat die leer van die Drie-eenheid* in sy wese aantas. Dit ontken die Godheid van Christus*, en sien Hom slegs as ’n besondere mens wat deur God aangeneem (geadopteer) is as sy Seun. Dié aanneming sou plaasgevind het by sy doop deur Johannes*1. Adopsianisme kan gesien word as ’n rigting binne die sogenaamde monargianisme* wat gehandhaaf het dat daar net een Goddelike Persoon is. God* (die monarg) het Jesus* vir ’n tyd lank met Goddelike krag (Grieks: dunamis) toegerus, sodat Hy sy Seun kon wees. Die adopsianisme staan dus ook bekend as die dunamistiese monargianisme. Bekende voorstanders van dié dwaling was Teodotos die leerlooier (2de eeu), Paulus van Samosata (3de eeu), asook die ketter Arius* wat van die Seun gesê het dat “daar ’n tyd was toe Hy nie was nie”. Die vraag waaroor dit uiteindelik gegaan het, was dié van die eenwesenheid (Grieks: homo-ousia) van die Vader* en die Seun*. Hierdie dwaling is reeds so vroeg as 268 by die Sinode van Antiogië veroordeel.

 

Sidebar