ADVENT

ADVENT (wat letterlik iets soos naderkom beteken) is tradisioneel dié tydperk in die kerklike jaar waarin die ganse skepping se afwagting van die Messias* uitgedruk word. Normaalweg vind die viering hiervan plaas tydens die vier weke wat Kersfees* voorafgaan. ’n Mens sou kon sê dat ten minste drie waarhede tydens hierdie tydperk aan die orde gestel word. 1. Die feit dat die skepping* (in die breedste sin van die woord) inderdaad die Messias nodig het, en dat advent ’n soort versugting om verlossing* is. 2. Ons leef egter ook uit die realiteit dat die Messias, Jesus* Christus*, alreeds gekom hét, en dat lg versugting in ’n sekere sin klaar deur God gehoor en beantwoord is – ’n waarheid wat altyd in adventsvierings in gedagte gehou moet word. 3. Ons weet ook dat ons steeds wag op Jesus se tweede advent, sy wederkoms*, en dat die versugting, wat reeds beantwoord is, hierdeur verder verdiep word. Dikwels tref ons in die Nuwe Testament* ’n samebundeling van Jesus se eerste en tweede advent in enkele uitsprake aan, bv as Paulus sê: “Wees bly … Die Here is naby” (Fil 4:4-5). Dit beteken: Omdat die Here gekom hét en wéér kom, is Hy (nou) naby.

Vir verdere lees: CW Burger, BA Müller en DJ Smit (red) 1981. Woord teen die lig I/1: Riglyne vir adventprediking. Kaapstad: NGKU. CW Burger, BA Müller en DJ Smit (red) 1990. Woord teen die lig I/7: Verdere riglyne vir adventprediking. Kaapstad: Lux Verbi.

 

Sidebar