ADVENTISTE

ADVENTISTE maak daarop aanspraak dat hulle die presiese tyd van Christus* se wederkoms* weet. Histories het dit in die eerste helfte van die 19de eeu tydens die groot herlewings in die VSA ontwikkel toe ’n boer van New York, W Miller (1782–1849), op grond van Dan 8 bereken het dat Christus se wederkoms iewers in 1843/1844 sou plaasvind. Hy het dit in 1831 in die openbaar begin verkondig. In dié tyd het J Bates (1792–1872), ’n gewese skeepskaptein, die dogma* van die (eskatologiese*) herstel van die sabbat* laat herleef – die noodsaaklikheid daarvan om die sewende dag van die week (Saterdag) as sabbat te vier sodat Christus se wederkoms kan plaasvind – wat hy by ’n klein groepie Sewendedagse Baptiste oorgeneem het (vandaar die onvriendelike benaming “Sabbatariërs”). Dit het tot die stigting van die Sewendedagse Adventiste-kerk in 1863 gelei. Die Adventistiese familie sluit vandag onder andere die Wêreldwye Kerk van God in. Adventiste verwag dat die wederkoms volgens ’n sekere orde voltrek sal word. Nét gelowiges sal by die wederkoms uit die dood opgewek word en vir ’n duisend jaar (Kyk by: Duisendjarige ryk, ook: Millennium) in vrede leef. Hierna sal ongelowiges ook opgewek word, net om met God se finale oordeel en die koms van die “nuwe hemel en die nuwe aarde” vir ewig vernietig te word.

 

Sidebar