AFGOD

AFGOD. Die woord “afgod” beteken eintlik nie-god. ’n Afgod is dus iets wat as God geag en vereer word, terwyl dit in werklikheid nié God is nie, en geen reg op dié verering het nie. Hebreeuse* woorde wat gebruik word, beteken letterlik “afgodsbeelde”, “nietighede”, “gruwels”, ens. Daar is ook offers* aan afgode gebring. Deurgaans val die klem op die ongeoorloofde aanbidding* van afgode en die afsku wat aanbidders van die ware God vir afgodery behoort te hê. Daar word met minagting van hulle gepraat, met hulle gespot en teen hulle gewaarsku. Opmerklik is ook die skerp sarkasme waarmee die nietigheid van die afgode aan die kaak gestel word, bv Ps 115:4-7. Die Skrif* leer baie duidelik dat die afgode nie bestaan nie en dat slegs die enige ware God aanbid en vereer mag word. Ons maak ons nie net skuldig aan afgodsdiens wanneer ons beeldediens verrig nie, maar ook wanneer ons in die plek van of naas die ware God iets versin of het waarin ons ons vertroue stel, bv geld of politieke leiers, geleerdheid, wetenskap, ’n loterykaartjie (Heidelbergse Kategismus*, Antwoord 95).

Sidebar