AFLAAT

AFLAAT. ’n Aflaat is ’n geestelike hulpmiddel wat die Katolieke Kerk*, ná die vergifnis* van sonde*, aan een van sy lidmate verleen om die skade wat deur die sonde berokken is en oorbly, te herstel. Deur te sondig, word jou verhouding met God, en dalk ook jou medemens, asook jou eie persoonlikheid geskend. Selfs nadat God jou vergewe het, moet hierdie skade volgens die Katolieke Kerk reggestel word.

Deur Christus* se eie heilswerk, plus die positiewe heiliging wat Hy in sy lidmate teweegbring, bou Hy die geestelike krag van die “hele Christus” uit, soos die kerkvader Augustinus* dit gestel het.

Volgens die Katolieke siening het Jesus* die besteding van hierdie geestelike krag aan die kerk* se ampsdraers toevertrou, eers aan die apostels* (Matt 16:17; 18:18), en deur hulle aan hulle opvolgers, die pouse en biskoppe. ’n Pous* of biskop* mag die geestelike krag van Christus se liggaam aan ’n sekere gebed of handeling koppel. Dit word dan ’n “aflaat” genoem. Al het God die misdryf vergewe, bly daar by die sondaar ’n menslike behoefte oor om God daarvoor te vergoed. Die sondaar doen hierdie ereboete deur die voorgeskrewe gebed* op te sê of taak te volbring. Daarmee gepaard gaan die genesing van die skade wat die mens aan sy eie persoonlikheid deur die sonde gedoen het. Hierdie uitwerking van die aflaat veronderstel dat die persoon sonder ernstige sonde in ’n positiewe verhouding met God verkeer. ’n Aflaat word “volledig” bestempel as dit die sondeskade volkome herstel, en “gedeeltelik” as dit slegs ’n bydrae daartoe lewer. In sommige gevalle mag ’n aflaat by wyse van ’n gebed vir iemand in die vaevuur* geoffer word.

Met die Kerkhervorming* van die sestiende eeu was die aflaat een van die besware teen die Katolieke Kerk – waarvoor daar volgens die Hervormers geen Bybel*-gronde is nie.

Vir verdere lees: Pous Paulus VI 1967. Apostoliese konstitusie: Indulgentiorum doctrina.

 

Sidebar