AFRICAN METHODIST EPISCOPAL CHURCH (AME-KERK)

AFRICAN METHODIST EPISCOPAL CHURCH (AME-KERK) is een van die historiese Afro-Amerikaanse kerke en het sy wortels in die metodisme* van die 18de eeu. Hier, soos met ander kerke in die swart gemeenskap van die Verenigde State, was die aanleiding tot die stigting van ’n swart kerk* die toenemende rassisme* en diskriminasie* in die (oorwegend wit) Methodist Episcopal Church. Daar is selfs ’n spesifieke insident wat tot “afskeiding” gelei het. Richard Allen en Absalom Jones, twee leiers aan die “swart” kant van die kerk, was op ’n Sondag in 1816 fisies uit ’n kerkgebou van die Metodistekerk in Philadelphia gegooi toe hulle in ’n gedeelte van die kerk wat net vir blankes gereserveer was, aanbid het. Kort daarna het die AME-kerk tot stand gekom. Vandag is daar byna 4 miljoen aanhangers in Noord-Amerika, die Karibiese Eilande en Afrika. Ook in Suid-Afrika het die AME-kerk ’n sterk verteenwoordiging.

Die AME-kerk het ’n teologiese tradisie waarin persoonlike geloof* en sosiale aksie mekaar goed aanvul. Die temas van menslike vryheid en gelykheid, sosiale en politieke geregtigheid*, was van meet af gesien as vrug van die vryheid in Christus*, en as die verantwoordelikheid van die gelowige in die wêreld.

In Suid Afrika lê die AME-kerk se wortels in die Etiopiese Beweging wat in 1892 ontstaan het. Onder die leierskap van eerw Mangena Maake Mokone*, Charlotte Manye Mxeke en eerw James Dwane* (wat later weggebreek het om die “Order of the Ethiopian Church” onder gesag van die Anglikaanse Kerk* te stig), en met die aktiewe ondersteuning van biskop Henry McNeal Turner, het die Etiopiese Beweging in 1896 uitgemond in die AME-kerk. Dié kerk se rol in Suid-Afrika in die stryd teen apartheid* staan in die tradisie van die AME-kerk se stryd teen slawerny* en vir burgerregte in die VSA.

Van biskop Henry McNeal Turner se God is a Negro uit 1898 tot vandag toe is die bydrae tot die teologie* uit die geledere van die AME-kerk beduidend. James H Cone*, die “vader” van die moderne swart teologie in Amerika, en Jacquelyn Grant, een van die eerste artikuleerders van die sogenaamde Womanist Theology, is albei lede van die AME-kerk.

In Junie 2015 was blatante rassisme weer eens die rede waarom die wit Dylann Storm Roof nege swart kerkgangers in die AME-kerk in Charleston in Suid-Carolina koelbloedig doodgeskiet het.

 

Vir verdere lees: James H Cone 1984. For My People, Black Theology and the Black Church: Where have we been and where are we going? New York: Orbis Books.

 

Sidebar