AFRIKA-FILOSOFIE

AFRIKA-FILOSOFIE. Een van die oudste en mees gerespekteerde tekste oor Afrika*-filosofie is Placide Frans Tempels se Bantu Philosophy (die oorspronklike Franse weergawe het in 1945 verskyn). Tempels probeer daarin ’n samehangende en sistematiese uiteensetting gee van Afrikadenke en -filosofie, gebaseer op sy skakeling met die gewone Afrikane* onder wie hy as sendeling* gewerk het. Teen die laat-18de eeu was daar ’n hele aantal Europese geleerdes, hoofsaaklik antropoloë en taalkundiges, wie se studieveld die (in hulle woorde) “primitiewe denkwyse” was waarvan Tempels die intellektuele erfgenaam was. Ook latere Afrika-filosowe het Tempels gebruik – óf deur op sy werk voort te bou óf deur dit skerp te kritiseer. Maar selfs voordat Tempels se werk verskyn het, was die ontstaan van ’n sistematiese Afrika-filosofie waarneembaar in die swart filosofie wat deur verskeie Afrikaleiers uit die laat jare twintig van die vorige eeu verkondig is, soos in Jomo Kenyatta se Facing Mount Kenya en die gepubliseerde sowel as die ongepubliseerde werke van byvoorbeeld Nkrumah, Césaire en Senghor. Van die 1950’s af het ’n nuwe geslag Afrika-filosowe, -teoloë en -skrywers verrys. Gevolglik het Afrika-filosofie ontwikkel tot ’n komplekse dissipline wat ’n verskeidenheid terreine insluit, waaronder (Afrika-)letterkunde, -teologie en -filosofie, in soverre daar op hierdie ander (verbandhoudende) terreine ’n doelbewuste poging is om die denke, tradisies, wêreldbeskouings, gelowe en kulture van Afrika te onderskei en die voorwerp van sistematiese en akademiese ondersoek te maak.

Vir verdere lees: Placide Tempels 1945. La Philosophie Bantoe. Elizabethville: Lovania (Engelse vertaling 1959. Parys: Présence Africain). J Mbiti 1970. African Religions and Philosophy. New York: Anchor. Jomo Kenyatta 1938. Facing Mount Kenya. Londen: Secker & Warburg. Kwame Nkrumah 1963. Africa Must Unite. Londen: Heinemann. Aimé Césaire 1950. Discours sur la Colonialisme. Parys: Présence Africain.

 

Sidebar