AFRIKA-INISIATIEF-KERKE

afrika-inisiatief-Kerke is kerke* wat deur Afrikane* gestig, gelei en onderhou word sonder direkte of indirekte borgskap deur sendelinge* of instansies van kerke waarvan die wortels in ander kontinente (soos Europa, Noord-Amerika en Asië) lê. In sommige gevalle het sulke kerke ontstaan in verset teen of selfs as wegbreekaksies uit sogenaamde historiese sendingkerke. Dit is hoekom hulle dikwels Onafhanklike Afrika*-kerke genoem word: om aan te dui dat hulle onafhanklik is van die sg historiese sendingkerke, maar hierdie benaming word al meer verwerp, omdat dié omskrywing sê wat hulle nié is nie eerder as wat hulle wél is. Alhoewel die Afrika-inisiatief-kerke se bloeitydperk in die laat-19de en vroeë-20ste eeu was, dateer hulle wortels van die vroeë-18de eeu en die Kimpa Vita*-beweging in die Portugese koninkryk van die Kongo. Geleerdes is nie eenstemmig oor die aard van Afrika-inisiatief-kerke nie, maar drie soorte word algemeen onderskei: Etiopies, charismaties* en Sionisties. Drie belangrike hedendaagse voorbeelde van Afrika-inisiatief-kerke is die Zion Christian Church* (dié in Suid-Afrika en dié in Zimbabwe) en die Kimbangu Church (in die Demokratiese Republiek van die Kongo). Daar is gevestigde Christelike rituele en gebruike wat Afrika-inisiatief-kerke gemeen het met alle Christelike kerke in die wêreld. Sommige van die meer eiesoortige kenmerke van Afrika-inisiatief-kerke is: vertroue in die Bybel* soos dit in die spreektaal vertaal is, aktiewe kontekstualisering van die Christelike boodskap in die kulturele milieu van Afrika, energieke aanbiddingswyses (wat ook dans insluit) en ’n sterk klem op genesing.

Vir verdere lees: ML Daneel 1988. Quest for Belonging. Mambo: Gweru.

 

Sidebar