AFRIKA-TEOLOGIE

AFRIKA-TEOLOGIE is ’n benadering tot die Christelike teologie* wat die konteks, mense en ervarings van Afrika* vooropstel en algehele bevryding (kultureel, geestelik én polities) voorhou as die hoofdoel van teologie. Dit is so oud soos die eerste ontmoeting tussen Afrikane* en die Christendom*, toe Afrikane begin het om te probeer sin maak van die Christelike geloof*. In hierdie verband is dit belangrik om te onderskei tussen mondelinge of geleefde Afrika-teologie en geskrewe Afrika-teologie. Geskrewe Afrika-teologie het baie laat op die toneel verskyn in vergelyking met die oorgelewerde en uitgeleefde mondelinge teologie van Christene in Afrika. Die oorsprong van Afrika-teologie as ’n gestruktureerde en bewustelike onderneming dateer uit die 1950’s. In 1956 het ’n groep swart priesters, meestal Franssprekend en meestal Katoliek*, ’n versameling essays gepubliseer wat deur baie mense beskou word as die eerste bewustelike nadenke oor Afrika-teologie. Die titel van die bundel was: Des Prêtres Noirs s’interrogent (Black Priests Agonise). Daarna het Afrika-teologie na vore getree as ’n sterk teologiese tradisie, die onderwerp van honderde tesisse en boeke sowel as duisende essays. Daar is verskillende Afrika-teologieë, waaronder Afrika-teologie van inkulturasie, swart teologie en Afrika-vroueteologie. Van die vernaamste temas in hedendaagse Afrika-teologie is: rekonstruksie, gender, armoede*, die MIV/vigs*-pandemie, demokrasie* en ook geweld. Dit is ook belangrik om die verskil in klem tussen Franssprekende en Engelssprekende Afrika-teoloë voor oë te hou. Afrika-teoloë maak gebruik van ’n verskeidenheid metodologieë en benaderings om hulle teologie te bedryf.

Vir verdere lees: G Setiloane 1976. Image of God Among the SothoTswana. Rotterdom: Balkema. K Appiah-Kubi en S Torrès (red) 1977. African Theology en Route. New York: Orbis.

 

Sidebar