AFRIKA-TRADISIONELE RELIGIE (ATR)

AFRIKA-TRADISIONELE RELIGIE (ATR) dui op sekere kenmerkende rituele en denkpatrone wat in die meeste van die tradisionele religieë* in Afrika* suid van die Sahara voorkom. Die denkpatrone word op verskillende maniere vergestalt, bv:

  1. Sommige glo dat die voorvaders bo in die lug woon, en begrawe mense in die middel van die dag, as die son bo in die lug is. Ander glo dat die voorvaders onder die grond woon, en begrawe mense met sonsopkoms of sonsondergang. Die onderliggende geloof in die lewe ná die dood*, dat ’n mens na jou dood “tuiskom” by jou voorvaders, is gemeenskaplik aan beide sienings.
  2. Geloof* in God, wat in ’n sin vér en onbetrokke is en vir ’n mens* voorspoed of teenspoed bring, maar wat in ’n sin tog ook naby is, soos die grond waarop ’n mens loop.
  3. Die ervaring dat ’n mens uitgelewer is aan ’n magdom kragte en magte, beide natuurlik en bo-natuurlik, wat voorspoed en teenspoed bring. Daar is mense wat hierdie magte kan beheer, en wat genesing kan bring, maar ook vernietigende magte kan stuur. Die slegte gesindhede van ander mense, soos jaloesie, is die grootste bron van teenspoed. Dié gesindhede is dikwels onbewustelik in ’n mens werksaam en moet deur allerhande rituele skadeloos gemaak word.
  4. ’n Belangrike kenmerk van die ATR is die tydsbegrip. Dit word soms voorgestel met ’n fontein: die tyd begin in die hede, as iets gebeur. Dan vloei dit weg na die verlede toe. ’n Mens kyk na alles wat verby is, en weet nie wat hier agter in die toekoms aankom nie. Tyd word ook soms met ’n sirkel voorgestel: soos dag en nag en die seisoene mekaar in ’n sirkel opvolg, so volg siekte en gesondheid, voorspoed en teenspoed, lewe en dood mekaar op. Hierdie denkpatroon bied in tye van teenspoed troos – dit sal weer beter gaan. Dit bring egter vrees vir voorspoed, want groot voorspoed lei tot groot teenspoed.
  5. Anders as die Westerse kultuur wat vooruitgang nastreef, streef die ATR ten diepste na balans, eenheid, harmonie en kontinuïteit. Vooruitgang is om die sirkel groter te maak, en só nuwe dinge te akkommodeer. Die strewe na harmonie kom dikwels in menseverhoudings na vore. Die term ubuntu* dui op hierdie soeke na goeie verhoudings en gemeenskap.

 

Sidebar