AFRIKA

AFRIKA. Dié woord kan verwys na:

  1. Die kontinent met sy enorme verskeidenheid natuurlike bronne, natuurlewe en kulture. Daar is in Afrika omtrent 2 000 stamme of etniese groepe, waarvan die meeste ’n eie taal of dialek het. Die indeling in state is in 1884 deur die koloniale magte in Berlyn gedoen.
  2. ’n Politieke magsblok, waarin die Arabiese lande noord van die Sahara en die swart nasies suid van die Sahara verenig is.
  3. ’n Sosio-kulturele kompleks van lande suid van die Sahara wat gekenmerk word deur die tradisionele kulture, die invloed van modernisasie, Christendom* en Islam*, verstedeliking, armoede*, siektes, onstabiliteit – maar ook lewensblyheid en hoop.

Afrika, “die wieg van die mensdom” – só genoem omdat paleontoloë beweer dat die eerste mense uit dié deel van die wêreld gekom het, by name uit Suider-Afrika – is die armste kontinent, maar is ook dié deel van die wêreld wat as ’n reuse ekonomiese groeipunt vir die toekoms bestempel word. Die Christelike kerk* groei sterk in Afrika met meermale ’n fundamentalistiese* benadering tot Skrif*-verstaan en geloof*. Konfrontasie tussen Christene* en Moesliems*, soms erg gewelddadig, vind van tyd tot tyd plaas. Meer as ’n miljard mense woon op dié vasteland.

 

Sidebar