AFRIKAANSE CHRISTELIKE VROUEVERENIGING (ACVV)

AFRIKAANSE CHRISTELIKE VROUEVERENIGING (ACVV) is een van die oudste welsynsorganisasies in Suid-Afrika. Dié organisasie is op 1 September 1904 in Kaapstad gestig deur ’n groep vroue wat die voorafgaande vier jaar aktief saamgewerk het om praktiese hulp te verleen aan die slagoffers van die Anglo-Boereoorlog*. Die eerste voorsitter was mev ds Elizabeth Roos. Noodleniging was die ACVV se eerste oogmerk, veral aan die groot getalle vroue en kinders wat deur die oorlog sonder heenkome gelaat is. Kinderhuise en huise vir bejaardes in talle dorpe spreek hiervan. Die ACVV het algaande ook ander behoeftes waargeneem en dienste is uitgebrei na primêre gesondheidsorg soos die oprigting van kraaminrigtings en hospitale, opvoedingsprogramme, koshuise vir behoeftige kinders, boekdienste vir plaasskole en plattelandse dorpe (die begin van biblioteke en algemene welsynswerk).

Aanvanklik was direkte dienste gefokus op blanke Suid-Afrikaners, terwyl diens aan ander groepe indirek deur ondersteuning aan ander organisasies gelewer is. Mettertyd het die ACVV se visie verbreed. Uitgebreide kinder- en gesinsorgdienste, bejaardesorg ingesluit, dienste aan kwesbares en mense in nood, word nou ongeag ras, taal en kultuur, godsdiensoortuiging en geslag gelewer. Dit word gedoen deur middel van maatskaplikewerk-dienste, ontwikkelingswerk, fasiliteite en inrigtings van die ACVV.

In wese het die ACVV ’n Christelike diensmotief en is verbind tot die bevordering en instandhouding van die lewenskwaliteit van indiwidue, gesinne en gemeenskappe. Die sterk vrywilligergrondslag van die ACVV, met aanvulling deur personeel, maak dienste in stede en op die platteland toeganklik. (Kyk ook: Vroueorganisasies in die kerk*.)

 

Sidebar