AFRIKANER-DORSLANDTREKKE

AFRIKANER-DORSLANDTREKKE. Die vroegste vestiging van Afrikaner*-boere oor die Oranjerivier was in 1870 in die suide van Namibië (indertyd bekend as Duits-Wes-Afrika, en later as Suidwes-Afrika). Daarna het die bekende Dorslandtrekke gevolg (1875), deur Botswana na Rietfontein (Gobabis), en vandaar deur die Etoshapan na Kaokoland en Angola (1880) en terug na Namibië (1928).

Suidelike trekke: Die Garieb (Oranjerivier) is in 1847 as noordelike grens van die Kaapkolonie geproklameer. Drie jaar later is die NG gemeente Namakwaland in Springbok gevorm (1850), met ’n totale lidmaattal van 3 000. Families uit die gebied tussen Springbok en Upington het vanaf 1870 die Garieb by Ramansdrif begin oorsteek en hulle in die Warmbad-omgewing gevestig. Ander het die rivier by Upington, Kakamas of Schuit­­drif oorgesteek, en rondom die Karasberge gevestig. ’n Derde roete was oor Rietfontein en Aroab tot by Keet­mans­hoop. Hierdie trekgroepe het verenig en noordwaarts begin trek, op soek na weiding en grond. Uiteindelik het hulle gevestig op Warmbad, Keetmans­hoop, Gibeon, Kub, Mariental, Rehoboth en Schaap­river (Wind­hoek-Suid).

Noord-oostelike trekke: Die tweede migrasie van Afrikaner-trekboere na Namibië was die Dorslandtrekke (1875). Die eerste trek van dertien families is gelei deur Gert Alberts van Pretoria. Hulle was meestal lidmate van die Gereformeerde Kerke* van Trans­­vaal en wou ’n “beloofde land” in die noord­weste soek, sonder enige godsdienstige of politieke oogmerke, maar met wanderlust as enigste motivering.

In 1875 het Alberts se trek die droë Kalahari-woestyn in Wes-Botswana begin oorsteek. Ná groot lyding weens gebrek aan water en kos, het die trek in Januarie 1876 die huidige Namibiese grens by Rietfontein (Gobabis) oorgesteek. Die Namibiese kaptein Amraal Lamberts het toestemming verleen vir vestiging by Rietfontein, maar kaptein Maharero het dit teengestaan. Nog twee trekke (Grey­ling – 1876, Botha – 1877) het gevolg, maar die spoor in Botswana verloor en in die koors-gebiede van die Kavango-moerasse beland. Ná baie sterftes is die “dwaaltrekke” opgespoor en teruggelei na Alberts by Rietfontein.

Op aanbeveling van reisiger Palgrave het die Rietfontein-gemeenskap in 1877 verder getrek na die huidige Etosha-Nasionale Park (waar Alberts se vrou begrawe is by die Rietfontein-watergat), nog later tot by Rustplaas en Kaoko-Otavi in die Kunene-streek. Ná 16 maande weer noordwaarts, gelei deur Botha en Alberts, steek hulle die Kunenerivier by Swartbooisdrift oor en vestig uiteindelik (1881) permanent te Humpata naby Lubango in Angola. Verdere trekke het gevolg. Die Hamman-trek (1892) met ’n aantal Nederduitsch Hervormde Kerk*-lidmate, is gevolg deur die Lombard-trek (1893) van 100 families, insluitende Hervormde en NG lidmate. Veertig vestig in Grootfontein en sestig op Humpata. In 1905 vestig die “Nylstroom-Waterberg”-trek op Humpata.

Die Angola-boere is geestelik versorg deur die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Ná die Eerste Wêreldoorlog het die Portugese regering met inperkende wette druk begin plaas op die Afrikaner-gemeenskap. Die situasie het sodanig versleg dat die hele Afrikaner-gemeenskap van Humpata in 1928 permanent terugge­keer het na Namibië (Gobabis), wat sedert 1919 onder beskerming van die Suid-Afrikaanse regering geval het.

Vir verdere lees: GL Buys en SVV Nambala 2003. History of the Church in Namibia – An Introduction. Windhoek: Gamsberg-Macmillan. MM Nieuwoudt 1979. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suidwes-Afrika. DTh-Proefskrif, Universiteit van Stellenbosch. GS Preller 1941. Voortrekkers van Suidwes. Kaapstad: Nasionale Pers. PJ van der Merwe 1951. Ons halfeeu in Angola (1880–1928). Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel. L Venter 1983. Geskiedenismakers. 24 Kleurvolle karakters uit die verlede van SWA/Namibia. Windhoek: Rössing Uraan Bpk.

 

Sidebar