AFRIKANER-NASIONALISME

AFRIKANER-NASIONALISME is ’n politieke, kulturele en ekonomiese beweging vir Afrikaner*-bemagtiging wat in die honderd jaar ná 1880 sy opkoms, groei en ondergang beleef het. Historici verskil oor die aard en die dryfkrag daarvan. Uit nasionalistiese hoek sien HB Thom (1980) nasionalisme as “iets wat baie diep lê” en nie slegs rasioneel verklaar kan word nie. As Marxis beskou D O’Meara (1983) Afrikaner-nasionalisme as ’n beweging gelei en gemanipuleer deur ’n petite bourgeoisie wat middestand-status en materiële rykdom wou bekom. D Moodie (1975) tipeer dit as ’n vorm van burgerlike godsdiens waarin politiek en godsdiens verstrengel geraak het met persone soos DF Malan* en lede van die Afrikaner-Broederbond* wat ’n leidende rol gespeel het. Daarteenoor beklemtoon I Hexham (1981) die rol van vroeë Gereformeerde Kerke*-teoloë van Potchefstroom wat neo-Calvinistiese* leerstellings gebruik het om nasionalisme én apartheid* as ideologieë* te formuleer.

Die eerste manifestasie van ’n Afrikaner-nasionalisme was die landwye steun vir die verset in 1880–1881 teen die Britse anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). In die Kaapkolonie het SJ du Toit* in 1879 die (destydse) Afrikanerbond gestig wat ’n etniese nasionalisme met Afrikaans* as gemeenskaplike bindingskrag voorgestaan het. Onder JH (“Onze Jan”) Hofmeyr het die Bond ’n inklusiewe burgerlike (blanke) nasionalisme verkondig. Die enger latere Afrikaner-nasionalisme het ontwikkel uit die vernietiging van die twee Boere-republieke met die Anglo-Boereoorlog*. Dit was eerstens ’n taalnasionalisme met die stryd om gelyke behandeling van Engels en Nederlands (ná 1925 Afrikaans*) as middelpunt. Enkelmedium-Afrikaanse skole het die posisie van Afrikaans verder bestendig.

’n Ekonomiese nasionalisme en ’n vorm van etniese populisme het ’n beleid ingesluit om ’n plaaslike vervaardigingsbedryf te ontwikkel en die land minder van invoere afhanklik te maak. Ander doelwitte was om die armblankes op te hef en dat die Afrikaners ’n deel van die ekonomie as bestuurders en eienaars van maatskappye verower. Afrikaner-nasionalisme in politieke konteks was aanvanklik daarop gerig om die oorheersende rol van Brittanje in Suid-Afrika teen te werk, eie nasionale simbole te vestig en ’n republiek tot stand te bring. Vanaf die 1930’s het die Nasionale Party leiding geneem in die bereiking van die republikeinse ideaal en die konsolidasie van blanke mag. Apartheid* het ontwikkel as die operasionele ideologie of werktuig van Afrikaner-nasionalisme in die stryd om beheer oor die swart meerderheid. Die Afrikaanse Susterkerke en die staat het baie na aan mekaar beweeg met wedersydse ondersteuning.

Afrikaner-nasionalisme het sedert 1975 begin disintegreer. Dit was deels omdat die taalnasionalisme en ekonomiese nasionalisme sy doelwitte bereik het en deels omdat apartheid Afrikaner-nasionalisme gediskrediteer het. Dit was ook nie in staat om die druk van groeiende swart getalle, sanksies en ekonomiese realiteite teen te werk nie.

Vir verdere lees: I Hexham 1981. The Irony of Apartheid: The Struggle for National Independence of Afrikaner Calvinism against British Imperialism. New York: Edwin Mellen Press. D Moodie 1975. The Rise of Afrikanerdom. Berkeley: University of California Press. H Giliomee 2004. Die Afrikaners: ’n Biografie. Kaapstad: Tafelberg. H Giliomee 2012. Die laaste Afrikanerleiers. Kaapstad: Tafelberg.

 

Sidebar