AFRIKANERBROEDERBOND / AFRIKANERBOND (AB)

AFRIKANERBROEDERBOND / AFRIKANERBOND (AB) is in 1918 deur ’n paar Afrikaners* aan die Rand gestig omdat hulle bekommerd was oor die Afrikaners en Afrikaans* se toekoms. Die AB het ’n vertroulike karakter gekry met beperkte lidmaatskap. Afrikanermans wat lidmaat van een van die Afrikaanse “Susterkerke” (die NG Kerk*, die Geref Kerke* en die Nederduitsch Herv Kerk*) was, is ná keuring – wat al hoe strenger geword het – tot die organisasie toegelaat. Tydens die Tweede Wêreldoorlog* is staatsamptenare verbied om aan die AB te behoort. Nadat die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, het die AB groot invloed binne regeringskringe begin uitoefen, met ’n hoogtepunt in die 1960’s en 1970’s. Baie predikante van die Afrikaanse Susterkerke het in daardie tyd aan die organisasie behoort. Kerklike ondersoeke na die AB het niks negatiefs opgelewer nie.

Die AB het ’n belangrike rol gespeel in die ekonomiese opheffing van Afrikaners, in die bedinking van ’n staatsbestel vir ’n gekompliseerde bevolkingsamestelling – die AB het lank geglo dat afsonderlike ontwikkeling (apartheid*) die oplossing vir die land se samelewingsprobleme is – en het uiteindelik ’n aandeel gehad in die oorgang na ’n nuwe staatkundige bedeling in Suid-Afrika in die 1990’s. Van die eerste gesprekke in die buiteland tussen Afrikaners en die African National Congress (ANC) is deur AB-leiers gevoer. Die vertroulikheidsaspek en beperkte lidmaatskap het egter groot onmin onder Afrikaners veroorsaak, soos ook die indruk dat die AB “baantjies vir broertjies” skep en soms op kerklike terrein ingemeng het. Mettertyd is die naam na “Afrikanerbond” verander, in ’n groot mate weggedoen met die vertroulikheidsaspek en kon ook vroue en Afrikaanssprekendes van ander rasse en kerke lede word (lede moes egter steeds Christene wees). Herstrukturering en ’n nuwe benadering het meegebring dat die AB hom in die 2000’s steeds vir Afrikaanse belange wil beywer, maar ook klem daarop lê dat die organisasie in diens van Suid-Afrika en al sy mense wil staan. Die AB, met ’n kwynende ledetal, het sy invloed onder Afrikaners en in die breë samelewing mettertyd grotendeels verloor.

In 2018, met die viering van die AB se honderdste bestaansjaar, was die organisasie weer in die kollig toe pres Cyril Ramaphosa in ‘n toespraak by die Bondsraad gewys het op die noodsaaklikheid daarvan dat Afrikaners deel het aan die opbou van Suid-Afrika.

 

Sidebar