AFRIKANERS

AFRIKANERS kan beskryf word as ’n groep persone wat hoofsaaklik van Europese afkoms is en wat in Suid-Afrika verinheems het met Afrikaans* (aanvanklik Hollands) as moedertaal of eerste taal. Die meeste Afrikaners stam af van Nederlandse en Duitse matrose, soldate en amptenare van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie* (VOC), asook van Hugenote*, slawe* van Afrika* en die Ooste, en inboorlinge (Khoekhoen*). H Heese het die samestelling van die Afrikaners onder meer bereken op 36% Nederlands, 35% Duits en 15% nie-Europees (slawe en Khoekhoen). Die Franse gedeelte word soms so hoog as 25% gestel. Gedurende die eerste 75 jaar ná die stigting van die Kaapse nedersetting was daar aansienlike ondertrouery tussen Europeërs en nie-Europeërs, maar vanaf ongeveer 1730 was feitlik al die “koloniale” huwelike tussen persone wat oorwegend of heeltemal van Europese afkoms was. Kinders uit buite-egtelike verbintenisse met slawe of vryswartes het gewoonlik deel van die slawe- of vryswartgemeenskap geword.

Teen die begin van die 18de eeu is die term “Afrikaners” hoofsaaklik gebruik vir kinders van slawe, vryswartes of Khoekhoen wat in die Kaap gebore is – bv Hottentot Africaaner en Jager Afrikaner. In 1707 word Hendrik Biebouw die eerste persoon van Europese afkoms van wie dit gedokumenteer is dat hy homself bewustelik ’n Afrikaner (Africaander) noem. Gedurende die 1790’s het Cornelis de Jong oor die Kaapsgebore Europeërs geskryf dat hy “… trots (is) op die naam Africaan en hy dink die titel Kaapse burger is iets besonders.”

Histories is die Afrikaners se belangrikste kenmerke hulle mobiliteit, klein getalle, sterk gebondenheid aan hulle kerk* en lojaliteit aan die land en hulle taal. Tot die einde van die 19de eeu het die meeste van hulle as bestaansboere in isolasie geleef – voordat ’n professionele- en werkersklas ontstaan het. Die Afrikaners het meestal sterk gevoel oor hulle onafhanklikheid en was as sodanig republikeinsgesind. Pogings om die Afrikaner-elite te verengels, het teen 1910 misluk. Leiers soos genl JBM Hertzog* se idee dat blanke Engelssprekendes wat lojaal teenoor Suid-Afrika is, hulleself Afrikaners moet noem, is eweneens nie verwesenlik nie. Die Afrikaners se sterk steun vir segregasie en apartheid* het hulle hierbenewens algaande van bruin en swart Afrikaanssprekendes vervreem.

In die dekades ná die totstandkoming van die “nuwe Suid-Afrika” in 1994 het tienduisende Afrikaners om verskeie redes (regstellende aksie, misdaad ens) die land verlaat en elders ’n heenkome gaan soek. Sommige Afrikaners het in die nuwe bedeling baie welgesteld geword. Armoede* onder hulle het egter ook toegeneem. As minderheidsgroep het hulle ná 1994 weinig politieke mag, maar ekonomies speel hulle nog ’n beduidende rol. Baie van hulle is nie meer so kerkvas soos vroeër nie – die lidmaatgetalle van die Afrikaanse Susterkerke (NG Kerk*, Geref Kerke* en Ned Herv Kerk*) daal – en veral onder die intellektuele Afrikaners is daar waarskynlik meer agnostici* as voorheen.

Vir verdere lees: H Giliomee 2004. Die Afrikaners: ’n Biografie. Kaapstad: Tafelberg. GHL le May 1995. The Afrikaners: A Historical Interpretation. Oxford: Blackwell. GD Scholtz 1967–1984. Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner. Johannesburg: Voortrekkerpers en Perskor. Jaap Durand 2002. Ontluisterde wêreld. Die Afrikaner en sy kerk in ’n veranderende Suid-Afrika. Wellington: Lux Verbi.BM. Frits Gaum 2011. Fluit-fluit, die kerk is uit? Wellington: Bybel-Media.

 

Sidebar