AFRIKANISME

AFRIKANISME verwys na daardie filosofiese en politieke stromings wat verbondenheid aan Afrika* as uitgangspunt gebruik vir die denke oor en inrigting van haas elke lewensterrein op hierdie kontinent. Kriteria wat benut word in die omskrywing van wat Afrika is en wie Afrikane* is, wissel van etnisiteit, spesifiek swartheid, tot lojaliteit en solidariteit teenoor die kontinent en sy mense. Eersgenoemde benadering is dus eksklusief en sluit talle mense uit. Die tweede benadering is inklusief en maak ruimte vir alle inwoners van die kontinent, selfs vir hulle wat buite die grense van die kontinent woon, maar hulle met die lot en strewes van Afrika identifiseer. Die voorstanders van die sogenaamde Afrika-Renaissance-denke beklemtoon laasgenoemde benadering. Inklusiewe Afrikanisme, gekoppel aan die Afrika-Renaissance-denke in die konteks van globalisering*, is ’n positiewe konsep. Só beskou, word Afrikanisme ’n belangrike denkmiddel in die bevegting van die sogenaamde Afro-pessimisme by talle inwoners van die kontinent sowel as by mense buite Afrika.

 

Sidebar