AFVALLIG

AFVALLIG. Wanneer iemand ’n bepaalde godsdienstige posisie prysgee, word sodanige persoon as afvallig beskou. Die woord word deurgaans in die Ou Testament* gebruik om te verwys na indiwidue en na die volk Israel* wat hulle rug op God* keer en aan Hom ongehoorsaam en ontrou is (Ps 78:57; Jes 65:11; Dan 9:11). Dikwels beteken dit dat Israel*2-5 God verruil vir die afgode* van ander volke, ten spyte van waarskuwings in hierdie verband (Eks 20:3-6). Die ondertoon is dié van ’n vrou wat aan haar man ontrou is. In die Nuwe Testament* word verskeie Griekse* woorde vertaal met “afvallig” en word hiermee die afsien van iemand se geloof* uitgedruk (Matt 24:10; 2 Tess 2:3; 1 Tim 4:1). Paulus* word deur die Jode* in Jerusalem* daarvan beskuldig dat hy die Jode wat buite Palestina* woon en wat Christene* geword het, afvallig sou maak van Moses* (Hand 21:21).

Die meeste Katolieke* skrywers onderskei ná Benediktus XIV drie soorte afvalligheid: a fide, wanneer ’n Christen geloof prysgee; ab ordine, wanneer ’n ampsdraer* ’n kerklike pos verlaat, en a religione, wanneer ’n godsdienstige persoon die godsdienstige lewe verlaat. In die gereformeerde* tradisie word hierdie fyner onderskeid gewoonlik nie gemaak nie en word “afvallig” as sambreelterm gebruik vir almal wat van die Christelike geloof vervreemd raak, hetsy intellektueel, moreel of geestelik.

 

Sidebar