AGAB

AGAB was die seun van Omri* vir wie hy opgevolg het as die sewende koning van Israel* (937–852 vC). Die geskiedenis van Agab is opgeteken in 1 Kon 16:29 en volgende verse. Agab se vrou, Isebel*, het ’n bose invloed op hom uitgeoefen en hy het onder andere in Samaria* ’n tempel vir Baäl* gebou. Hy het ’n liefde vir goeie argitektuur gehad wat duidelik is in die stede en huise wat hy laat bou het. Agab het die aanbidding van Baäl goedgekeur en hy is ernstig deur Elia* aangespreek oor sy boosheid. In ’n poging om sy rykdom in Jisreël* uit te brei, het hy probeer om sy buurman, Nabot*, se wingerd te bekom soos wat die Levitiese wet voorgeskryf het (Lev 25:23). ’n Vals aanklag van lastering is teen Nabot ingebring, hy is vermoor en Agab het besit geneem van die kosbare grond (2 Kon 9:26).

Elia het toe verklaar dat die totale uitwissing van die huis van Agab die straf vir sy boosheid sal wees. Hierdie uitwissing is egter uitgestel nadat Agab diep berou oor sy dade gehad het.

Agab het oorlog gemaak teen Ben-Hadad*, die koning van Damaskus*. Nadat Agab in verskeie oorloë groot sukses behaal het, was daar vir ’n paar jaar vrede, voordat Agab vir Ramot in Gilead binnegeval het. Nadat die profeet Miga* voorspel het dat Agab sou sterf, het Agab homself vermom, maar hy sterf toe tydens die veldslag. Elia se voorspelling van vroeër het gedeeltelik waar geword, nl dat die honde Agab se bloed opgelek het in Samaria toe ’n dienskneg die wa waarop Agab oorlog toe is, gewas het (1 Kon 21:19).

Agab word vanweë afgodery en begeerte na mag beskou as ’n voorbeeld van ’n dwase koning (2 Kon 8:18; 2 Kron 22:3; Miga 6:16).

 

Sidebar