AGAJE

AGAJE. Die hele Griekeland* is van die vroegste tye af Agaje genoem. Dit was nadat Agajers uit die Ooste die Ioniërs van die vasteland verdryf het. In 146 vC het die Romeine beheer oor Griekeland geneem en Korinte* gesloop. In 46 vC herbou Julius Caesar* Korinte. In 27 vC word dit die hoofstad van die provinsie Agaje (Hand 18:12, 27; 1 Kor 16:15; 2 Kor 1:1).

Die uitdrukking “Masedonië* en Agaje” word meermale gebruik om die hele Griekeland aan te dui (Hand 19:21; Rom 15:26; 1 Tess 1:8). Die vroeë Christene* het Masedonië en Agaje as een van die dertien groter Romeinse provinsies (Kyk by: Romeinse Ryk) erken. Ons kan vandag Paulus* se verblyf van agtien maande in Korinte dateer danksy ’n Agaïese inskripsie te Delfi wat die bewind van die prokonsul Gallio* boekstaaf. Met keiser* Nero* se bewindsoorname was daar reeds ten minste twintig gemeentes* in dié provinsie.

 

Sidebar