AGIKAR / AGIQAR

Agikar / Agiqar. Volgens oorlewering was Agikar ’n wyse man en een van die raadgewers van Sanherib* wat van 704–681 vC koning van Assirië* was. Die verhaal van Agikar is een van die pseudepigrafiese* geskrifte en waarskynlik van Babilonies-Assiriese oorsprong. Die verhaal is in verskeie tale oorgelewer. ’n Aramese* weergawe van die verhaal is gevind tussen die dokumente uit Elefantine, in die Nylgebied, waar ’n Joodse groep hulle ná die tyd van die Babiloniese ballingskap*2 gevestig het. Daar is ook weergawes in onder andere Arabies*, Siries en Grieks*. Die verhaal is ’n tipiese wysheidsverhaal van ’n regverdige man wat onregverdig gely het, maar wie se regverdigheid op die ou end deur God beloon is. Volgens die verhaal van Agikar het hy sy neef Nadin as seun aangeneem en hom gehelp om vir Agikar onder Esarhaddon* op te volg. Nadin draai egter teen sy oom en laat hom ter dood veroordeel. Die vonnis is nooit voltrek nie, omdat diegene wat dit moes doen, vroeër deur Agikar gered is. Later word Agikar in sy posisie herstel en sy seun gestraf. Die boek is in die styl van persoonlike herinnerings geskryf, maar bevat ook wysheidsuitsprake. Soortgelyke uitsprake kom in Psalms* en Spreuke* voor, terwyl die verhaal ’n invloed gehad het op Apokriewe* boeke soos Tobit en die Wysheid van Jesus Sirag*.

 

Sidebar