AHASVEROS

AHASVEROS is ’n Semitiese* naam en word in die boek Ester* en in Esra 4:6 genoem. Ofskoon Ahasveros in die Septuaginta* en in Josefus* met Artaxerxes*2 geïdentifiseer word, is dit waarskynlik dat hy eerder op Xerxes1* (485–465 vC), die seun van Darius1* I die Grote, dui. Xerxes is die Griekse naam wat weer op ’n ou Persiese vorm Khšayāršan (“hy wat oor mense heers”) teruggaan. Darius het die Agemeniede-ryk (539–330 vC) tot ’n hoogtepunt uitgebrei en sy seun het die taak ontvang om die ryk in stand te hou. Hy is vermoor nadat hy van een van sy bewaringstogte in die weste van die ryk na sy hoofstad, Persepolis, teruggekeer het.

In die Bybel* word hierdie Persiese koning met koningin Ester* verbind. Oor die boek Ester* bestaan daar uiteenlopende standpunte. Wat opval, is dat dit die enigste boek in die Ou Testament* is waarin die Naam van Jahwe* nie voorkom nie. Die skrywer vertoon wel ’n uitsonderlike kennis van die Persiese kulturele gebruike, soos die wet, gebruike en taal (hier kom verskeie Persiese leenwoorde voor). Die gebruik om uitgebreide feesmaaltye vir hooggeplaastes aan te rig soos in Ester 1 beskryf word, was algemene praktyk van die Agemeniede-konings.

 

Sidebar