AI

AI word vereenselwig met die argeologiese terrein et-Tell in die omgewing van Beitin (Bet-El*) in Israel*. In die Vroeë-Bronstydperk (3100–2400 vC) was dit ’n groot ommuurde dorp wat ná sy vernietiging vir eeue lank onbewoond gebly het. In die Vroeë-Ystertydperk (1220–1050 vC), is daar ’n klein onbeskermde dorpie op die heuwel gebou. Die terrein is in 1928, 1933–1935 en 1964–1972 argeologies ondersoek. Die verband tussen die dorpie uit die Ystertydperk en die vertelling in die boek Josua is onduidelik.

Ai word in drie verbande in die Bybel genoem. Volgens Gen 2:8 en 13:3 het Abraham* tussen Ai en Bet-El oorgestaan en ’n altaar gebou. Volgens Jos 7–8 was Ai die Israeliete se tweede teikenstad in die beloofde land. ’n Kleinerige getal soldate is gestuur om die stad aan te val, maar hulle het misluk. Die rede vir die mislukking is gevind en die skuldige, Akan*, en sy familie is tereggestel. Daarna het die Israeliete die stad suksesvol ingeneem. In Jos 8:28 lees ons: “Josua het Ai afgebrand en daarvan vir altyd ’n verlate ruïne gemaak. Dit is nou nog so.” Volgens Esra 2:28 en Neh 7:32 het ’n aantal mense uit “Bet-El en Ai” ná die ballingskap* na Jerusalem* teruggekeer.

Vir verdere lees: E Stern (red) 1993. The New Encyclopedia of Archaeological Excavations in the Holy Land, deel 1. Jerusalem: The Israel Exploration Society & Carta.

 

Sidebar