AKKADIES

AKKADIES is ’n Semitiese* taal wat in Akkad, Mesopotamië*, gepraat is. Akkad was ’n stad naby Babel* wat in Gen 10:10 genoem word in verband met Nimrod se koninkryk. Akkad se suidelike bure, Sumer*, is ongeveer in 2340 vC deur Sargon* I van Akkad oorwin, wat sy invloed in Mesopotamië en omstreke laat geld het tot sover as Klein-Asië* en die kus van die Middellandse See. Die ryk van Akkad het ongeveer 150 jaar geduur.

Verskeie later koninkryke kan as herlewings van die Akkadiese beskawing gesien word, bv dié in Ur* (ongeveer 2100–2000 vC) en Babel* (ongeveer 2000–1600 vC). Die Babiloniese* en Assiriese* koninkryke van die eerste millennium vC is verdere ontwikkelings van die Akkadiese kultuur.

Die benaming Akkadies word as insluitende term vir die tale Babilonies en Assiries gebruik, met die benaming Oud-Akkadies vir die taal van Akkad. Akkadies is geskryf in sg spykerskrif* op kleitablette*. Die skrif is met aanpassings oorgeneem uit Sumeries*, wat ’n teken per lettergreep gebruik het. Die ontsyfering van die Akkadiese skrif en taal was lank ’n groot uitdaging vir geleerdes. Die knoop is uiteindelik deurgehak deur Rawlinson in 1833. Aangesien Akkadiese tekste van Assirië die eerste ontdek en bestudeer is, word die bestudering van Akkadies en verwante tale Assiriologie genoem.

 

Sidebar