AKKOMMODASIE

AKKOMMODASIE as sendingwetenskaplike* term berus op die veronderstelling dat daar ’n kern van geloof* is wat in ’n kultuurdop of -kleed verpak word. Akkommodasie het met die dop te doen. Die vraag is in watter mate ’n kerk* kan of moet aanpas by ’n bepaalde kultuur* – klere, gewoontes, taal, estetika (bv argitektuur); sosiale gewoontes en wette (bv poligamie*); die denke en wêreldbeskouing, en selfs religieuse gebruike soos maniere van aanbidding*. As geen aanpassing gemaak word nie, moet die kerk in ’n vreemde kultuur beoefen word, want die Christelike* geloof het nie sy eie kultuur nie. As daar wel aanpassings gemaak word, is daar die risiko dat aangepas word by aspekte van die kultuur wat religieuse betekenis het, wat daartoe lei dat die Christelike geloof met ’n nie-Christelike religie* vervang of vermeng raak (sinkretisme*). Die Katolieke* tradisie aanvaar dat daar in ’n nie-Christelike religie veel is wat goed en mooi is, waarby aangepas kan word. Die gereformeerde* beskouing is meestal dat ’n kultuur ’n geheel vorm, en dat dit nie so maklik is om die dele van die geheel los te maak nie – en veral nie van die religieuse kern van daardie kultuur nie. In die mate wat die gereformeerde beskouing reg het, is akkommodasie ’n ietwat onvoldoende en oppervlakkige benadering, en moet daar eerder aan inheemswording*, kontekstualisering* en inkulturasie* gewerk word. (Kyk ook: Kommunikasie en sending.)

 

Sidebar