AKROSTIEK

AKROSTIEK, ook akrostigon of alfabetiese liedere genoem, is ’n bekende stylvorm van gedigte in die Ou Testament*, asook in Babiloniese*, Griekse* en Christelike* literatuur. Elke opeenvolgende versreël van die gedig begin met die daaropvolgende letter van die Hebreeuse* alfabet wat 22 letters het (bv Ps 34; 111–112; 125; 145; Klaagl 1; 2; 4; Spr 31:10-31). Beginletters van ’n aantal versreëls in ’n strofe kan ook hierdie patroon volg (2 reëls in Ps 9–10; 37; Klaagl 4; 3 reëls in Klaagl 1; 2; en 8 in Ps 119). Soms is daar (doelbewus?) afwykings in die patroon waar ’n letter(s) van die alfabet ontbreek, herhaal of uitgelaat word (Ps 25:7, 18, 22; Nah 1:2-8; Klaag 2–4).

Die funksies van hierdie kunsvorm is veelvoudig. 1. Dit dien as kunsvorm wat die digter se vaardigheid weerspieël. 2. Dit help om die teks te memoriseer. 3. Dit beklemtoon die gedagte van volledigheid. 4. Dit het dalk ’n kulties-magiese funksie gehad.

Hierdie kunsvorm dateer vroegstens uit die 7–6de eeu vC en kom veelvoudig (hoewel nie eksklusief nie) in laat-Israelitiese wysheidstekste voor.

Die Sibellynse orakel 8.217–50 (240–320 nC) lees iēsous chreistos theou huios sōtēr stauros (Jesus* Christus*, Seun van God*, Saligmaker*, kruis*). Die eerste letters van die woorde vorm die bekende Christelike akrostigon ichthus (vis), waaraan Christene uitgeken is.

Vir verdere lees: WEG Watson 1984. Classical Hebrew Poetry. Sheffield: Sheffield Academic Press, 190-200.

 

Sidebar