AKWILA

AKWILA (Latyn vir “arend”) was ’n Joodse* Christen*, gebore in Pontus. Saam met sy vrou, Priscilla*, is hy omstreeks 49 nC deur keiser* Claudius* uit Rome* (Kyk ook: Romeinse Ryk) verban. Volgens Suetonius was daar ’n opstand vanweë ’n sekere “Chrestos”. Moontlik dui dit op ’n geskil tussen Joodse Christene en Jode, wat Christus* nie aangeneem het nie. Ná hulle verbanning het hulle na Korinte* getrek. Paulus* het daar by hulle tuisgegaan en werk saam met Akwila as skenopoios (Hand 18:1-3). Oor die betekenis van hierdie Griekse woord is daar nie eenstemmigheid nie. Waarskynlik dui dit op leerbewerkers wat as sodanig ook tente gemaak het. Akwila en Priscilla het tussen groot stede rondgetrek. In Hand 18:1-26 word Rome, Korinte en Efese* genoem. Later groet Paulus hulle toe hulle weer in Rome gewoon het (Rom 16:3), en nog later toe hulle weer in Efese was (2 Tim 4:19).

 

Sidebar