ALBERTS, LAURENCE (LOUW)

ALBERTS, LAURENCE (LOUW) (1923–2013) behaal sy doktorsgraad in fisika aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en word professor in fisika aan die Randse Afrikaanse Universiteit. Later betree hy die staatsdiens en word uiteindelik die direkteur-generaal van die departement van mineraal- en energiesake. As befaamde fisikus tree hy dikwels by konferensies op, publiseer baie, dien as voorsitter van talle komitees en ontvang onder andere drie eredoktorsgrade.

Sy drang om die Woord* te verkondig, laat hom wyd lees en garagedienste en Pinksterbidure* hou. Hy word ook deur interdenominasionele aksies benut en tree dikwels in Engels op. Die reaksie hierop bring vir hom stryd, maar hy bly lidmaat van die NG Kerk*. Later is hy ’n geëerde spreker, ook in die geledere van die NG Kerk, by Pinksterbidure en seminare oor die gesin*, die huwelik* en leierskap.

In 1990 was Alberts medevoorsitter van die Rustenburgse Kerkeberaad*. Hy glo dat die skuldbelydenis van prof Willie Jonker* oor apartheid* by daardie geleentheid, en die gebeure daarná, die pad en manier van onderhandeling vir alle groepe aangetoon het. In later jare het hy Rustenburg II geïnisieer. Sy bedoeling met sy topverkoper, Geloof versus wetenskap, was om aan te toon dat die wetenskap – geskape Woord – nie in botsing met die Bybel* – geskrewe Woord – is nie.

 

Sidebar