ALEKSANDER

ALEKSANDER (“verdediger van mans”) kom vyf keer in die Nuwe Testament* voor. Die bekendste Aleksander in Bybelse tye word egter nie in die Bybel* by die naam genoem nie.

  1. Aleksander (III) die Grote (356–323 vC), is gebore as seun van Filippus II van Masedonië* en Olimpias, en word koning in 336 vC. Die Bybel noem hom nie direk nie, maar die “groot horing” (Dan 8:21) en die “dapper koning” (Dan 11:3-4) kan na hom verwys.

Hy was ’n Griekse* kryger sonder weerga en het ’n uitsonderlike opvoeding gehad, onder andere van die Griekse wysgeer, Aristoteles. Hy het die Masedoniese Ryk uitgebrei tot ongekende grense – vanaf Griekeland* via Klein-Asië*, Palestina*, deur Egipte* en Mesopotamië* tot in Indië. Sy grootste bydrae tot die geskiedenis is dat hy die Griekse kultuur oor die bekende wêreld heen uitgebrei het. In die proses het hy die Agemeniede-ryk met Darius*4 III aan bewind, verslaan. Hy was regstreeks daarvoor verantwoordelik dat Grieks* as algemene gebruikstaal van die Nabye Ooste en omgewing by Aramees* – die taal van die Persiese Ryk* – oorgeneem het. Sodoende het hy as ’t ware die Nuwe-Testamentiese tydvak kultureel gesproke voorberei.

Dit is dus nie om dowe neute dat hy die apostel van Hellenisme* genoem word nie. Mettertyd is dié term aangewend om die omvattende denksisteem te beskryf wat ontstaan het met die botsing tussen die weste en die ooste met die snelle oorname van Aleksander. Ná die dood van Aleksander is sy uitgebreide ryk verdeel onder die Diadogi. Die Hellenisme het die grootste invloed in Egipte* gehad waar die Ptolomeërryk ontstaan het. Aleksander is hier as ’n farao* beskou en ’n nuwe taal, Kopties* – Egipties op Grieks – het ontstaan. Die Bybel* is later ook in Kopties vertaal.

J Cook

  1. ’n Seun van Simon*7 van Sirene in Noord-Afrika (Mark 15:21) wat Jesus* se kruis* gedra het. Omdat Aleksander en sy broer Rufus blykbaar bekend was in die gemeente*, was hulle waarskynlik later Christene*.
  2. ’n Lid van Annas*, die hoëpriester*, se familie (Hand 4:6), en lid van die Sanhedrin*.
  3. ’n Joodse leier wat tydens die oproer in Efese* (Hand 19:33) iets wou sê, waarskynlik om die Jode* te verontskuldig.
  4. Aleksander en Himeneus, twee dwaalleraars in Efese (1 Tim 1:19-20). Timoteus* waarsku teen hulle omdat hulle van die ware geloof* afgedwaal het.
  5. Die kopersmid in Efese wat vir Paulus* baie kwaad aangedoen het (2 Tim 4:14-15). (Hoewel 4, 5 en 6 al drie na iemand in Efese verwys, is dit onseker of dit dieselfde persoon is.)

 

Sidebar