ALEKSANDRIË

ALEKSANDRIË, in moderne tye ook bekend as die Arabiese stad el-Iskandarija, tweede grootste stad van Egipte*, is een van die belangriker hawens en handelstede aan die Middelandse See. Dit lê aan die westelike kant van die Nyldelta, op ’n sanderige landtong. Dit is in 331 vC gestig deur Aleksander* die Grote. Dit was vir Aleksander die hawe vanwaar hy goedere uit die ooste na die weste kon verhandel. Dit het ook die stad van kunstenaars en geleerdes geword – van die redenaar Demetrius Phalereus, die skilder Apelles, die wiskundige Euclides. Die grondslag is toe ook gelê vir Aleksandrië se beroemde biblioteek. In die Romeinse tyd het Aleksandrië sy hoogbloei belewe. Die inwonertal was in daardie stadium sowat ’n halfmiljoen. Die Griekse element was toe die sterkste, maar daarnaas was daar ook ’n Egiptiese en Joodse gemeenskap.

In Aleksandrië het die Christendom* reeds van die 1ste eeu af aanhangers gehad. Tradisie wil dit hê dat die eerste “predikant” van die gemeente die evangelis Markus* was. Die gemeente in Aleksandrië het deur die jare heelwat vervolging verduur. Demetrius, vriend en later teenstander van Origenes*, was die eerste biskop*. Algaande het Aleksandrië die belangrikste biskopsetel in die ooste geword, totdat Konstantinopel hierdie posisie oorgeneem het. In die teologiese stryd, eers teen Arius*, later oor die Christologie*, het Aleksandrië en sy biskoppe ’n belangrike plek ingeneem. Die biskop van Aleksandrië het in die loop van die 3de eeu die verantwoordelikheid aanvaar om jaarliks, op grond van astronomiese berekenings, die datum van Paasfees* te bepaal. Mededelings aan die kerk oor onder meer dié datum is dan in ’n gereelde Paasbrief gedoen.

Ná die Romeine het die Perse Aleksandrië beheer. In 642 het die Arabiere van die Kalifaat oorgeneem en van toe af het Aleksandrië se ster verdof en het Kairo dié stad van Egipte geword. ’n Groot knou is Aleksandrië toegedien met die ontdekking van die seeroete na Indië om Kaap die Goeie Hoop. In later tye het die totstandkoming van die Suezkanaal die ou hawestad laat herleef.

Vir verdere lees: A van Deursen en D Nauta in: FW Grosheide en GP van Itterzon 1956. Christelijke Encyclopedie. Kampen: Kok.

 

Sidebar