ALGEMENE BELANG (COMMON GOOD)

ALGEMENE BELANG (COMMON GOOD) is die belang of die goeie wat gemeenskaplik nagestreef moet word. Aristoteles gebruik die term reeds om die goeie wat in die polis (stad) nagestreef word, aan te dui. Hierdie gemeenskaplike goeie is na sy mening van ’n hoër status as die goeie wat die indiwidu nastreef. Deur veral die invloed van Thomas van Aquino* het die term ook in die Katolieke Kerk* inslag gevind. Thomas kontrasteer die algemene belang ewe-eens met indiwiduele belang en bring dit in noue verband met politieke gesag. Politieke gesag en wetgewing is na sy mening legitiem as dit die algemene belang nastreef. Thomas sien egter nie ’n absolute teenstelling tussen die algemene belang en die belang van die indiwidu nie. Die belang van die indiwidu is afhanklik van die algemene belang, omdat die gemeenskap onontbeerlik is vir die lewensonderhoud van die indiwidu. Omgekeerd word die algemene belang slegs gedien as voldoen word aan die vereistes van gelykheid en geregtigheid*. Dié noue verband kom ook tot uitdrukking in die definisie in die ensikliek* Gaudium et Spes (1965): Die algemene belang is die somtotaal van daardie sosiale omstandighede wat sosiale groepe en hulle indiwiduele lede aanvaarbare toegang verleen tot hulle eie vervulling.

Vir verdere lees: PD Miller en DP McCann (red) 2005. In Search of the Common Good. New York, Londen: T & T Clark.

DE de Villiers

Sidebar