ALGEMENE GENADE

ALGEMENE GENADE. Daar word in die teologie* soms onderskei tussen die algemene en die besondere genade* van God. Laasgenoemde is dan die genade wat God betoon tot verlossing van sondaars deur die versoeningswerk van Christus*, terwyl die algemene genade gesien word as ’n genadige daad van God waardeur Hy in sy onderhouding van die skepping* alles ter wille van alle mense in stand hou. Die siening van ’n algemene genade is veral deur Abraham Kuyper* in sy teologie breër uitgewerk. Die kritiese vraag wat spoedig gestel is, is of God se sorg en beheer oor sy skepping inderdaad ’n daad van genade is. Indien genade gesien word as instandhouding sonder enige verdienste, kan wel gesê word dat God se onderhouding van die skepping ná die sondeval* ’n genadige handeling geword het. Calvyn* het reeds verwys na God se algemene genade waardeur Hy die wêreld in stand hou en sy son laat opgaan oor goeies en slegtes. Dit verklaar ook waarom diegene wat buite Christus leef, selfs besondere hoogtes van ontwikkeling kan bereik. Dit is enersyds ’n teken van God se lankmoedigheid. Andersyds is dit ook ’n teken van sy onveranderlike besluit om sy doel en bestemming met sy skepping te bereik.

PC Potgieter

Sidebar