ALGEMENE OPENBARING

ALGEMENE OPENBARING. Verskeie gereformeerde* belydenisskrifte* (Kyk by: Formuliere van Eenheid) gaan van die standpunt uit dat God twee middele gebruik om Hom te openbaar. Die eerste is die skepping*, onderhouding en regering van die wêreld. Die tweede is sy heilige en Goddelike Woord*. Alhoewel verskillende terme deur teoloë gebruik is om hierdie onderskeiding aan te dui, is die mees gangbare een dié van algemene en besondere openbaring. Die algemene openbaring wil sê dat God se werksaamheid in die natuur, in die geskiedenis van die wêreld en selfs in die mens se gewete so onmiskenbaar sy werk is, dat dit niks minder as openbaring van God se kant kan wees nie. Die idee van ’n algemene openbaring het egter mettertyd ernstige kritiek ontlok, onder andere van Karl Barth*, wat dit as ’n vorm van natuurlike teologie* beskou het. In hoofsaak kom die kritiek daarop neer dat ’n ontmoeting tussen God en die mens in Christus* onontbeerlik is vir die gebeurtenis van openbaring. Die vraag is of die Bybel* aandui dat die werke van God, naas die Woord, ook ’n middel is waardeur God Hom openbaar. Die bekendste Skrifverwysing in hierdie verband is Rom 1:18-21, waar Paulus sê dat God sekere dinge wat vir die mense onsigbaar is, naamlik sy ewige krag en Goddelikheid, aan hulle geopenbaar het uit sy werke van die begin van die skepping van die wêreld af. Dit is egter net so duidelik uit die Nuwe Testament* dat hierdie algemene openbaring van God in sy werke nie tot egte kennis van God lei nie (Matt 11:27; Joh 1:18; 14:6). As handeling van God is die algemene openbaring volmaak en goed. Dat dit die mens nie tot ware kennis van God kan bring nie, is nie die gevolg van die aard van die algemene openbaring nie, maar van die mens se onvermoë om God daardeur te ken.

PC Potgieter

Sidebar