ALHEIT, WILHELM ADOLPH

ALHEIT, WILHELM ADOLPH (1853–1910) was die seun van ’n Rynse sendeling en het sy skoolopleiding en teologiese studie op Stellenbosch voltooi. Ná ’n Europese reis is hy in Junie 1877 op Colesberg in sy eerste gemeente bevestig en sit in September 1885 sy bediening op Dordrecht voort waar hy hom veral beywer om Afrikaanssprekendes in die Transkei in gemeentes te organiseer. Dit het onder meer tot die stigting van NG Kerk*-gemeentes op Elliot en Umtata gelei.

In Januarie 1894 aanvaar Alheit ’n beroep na Ceres wat hom in Maart 1900 verlof gee om die Boerekrygsgevangenes in die Groenpuntkamp geestelik te ondersteun. Die militêre owerheid op Ceres deporteer hom egter in Augustus 1901 op ’n vae klag van politieke teenstand. Met sy vrylating twee maande later was hy ’n rukkie op Gordonsbaai totdat hy in Julie 1902 terug is na die gemeente op Ceres.

Sy bediening in dié tyd was veral gerig op die binnelandse sending* en arbeidskolonies – een van die Oranjerivier-nedersettings is na hom genoem. Vier van sy vyf seuns het predikante geword. Ook twee van sy kleinseuns was bekende predikante: Sy naamgenoot het ’n groot rol in Carfo* en Mema* gespeel en sy agterkleinseun, Christoph Wilhelm, was saakgelastigde van die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland (1993–2002) en skriba van dié sinode (1995–1999). Alheit en sy jongste dogter het op 31 Desember 1910 op Kleinmond verdrink.

Vir verdere lees: WJ de Kock en DW Krüger 19862. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, deel 2. Pretoria: RGN. JH Snyman 1979. “Die Afrikaner in Kaapland, 1899–1902” in: Argiefjaarboek vir Suid-Afrika. Geskiedenis, 1979/ II. Pretoria: Staatsdrukker.

 

Sidebar