ALIGHIERI, DANTE

ALIGHIERI, DANTE (1265–1321) is in Florence, Italië, gebore. Sy werklike voornaam was Durante waarvan Dante die noemnaam in die gesinsopset was. Hy bestudeer filosofie, teologie*, politiek en letterkunde en word een van die grootste geleerdes van sy tyd. As gevolg van die verandering van die regerende party, word hy genoodsaak om Florence te verlaat en word hy ’n swerwer deur Italië. Dante is veral bekend vir sy werk Comedia wat later in die volksmond bekend geraak het as die Divina Comedia. Hyself beskryf hierdie werk as “die heilige digwerk waaraan én hemel én hel én aarde ’n aandeel gehad het.” Die aanvanklike titel heet: “Die aanvang van die Komedie van Alighieri Dante van geboorte ’n Florentyn maar nie van karakter nie.” Die werk beskryf sy visionêre tog vanaf Wit Donderdag 1300 – toe hy vyf en dertig jaar oud was – deur die drie ryke van die hel, die louteringsberg en die paradys. Hy is ook bekend vir sy werk Monarchia wat besondere insigte oor die verhouding tussen kerk* en staat* na vore bring. Hoewel Dante krities was, het hy lief gebly vir die Katolieke Kerk* en kan hy nie, soos sommige wil, as ’n voorloper van die Reformasie (Kyk by: Hervorming) gesien word nie.

Vir verdere lees: J Spoelstra 1957. “Dante” in: FW Grosheide en GP Itterzon, Christelijke Encyclopedie. Kampen: Kok.

 

Sidebar