ALLEGORIE

ALLEGORIE is ’n uitlegtegniek (Kyk by: Hermeneutiek) waardeur ’n mens op ’n uitgebreide skaal ’n dieper, geestelike betekenis heg aan iets wat oorspronklik letterlik bedoel is. “Allegoriese uitleg” is dus min of meer dieselfde as uitleg deur middel van ’n gelykenis*, maar die verskil is dat ’n mens in die geval van ’n gelykenis net aan een of twee aspekte van die oorspronklike verhaal* ’n geestelike betekenis heg (bv die gelykenis van die verlore skaap). In die geval van allegorie word baie meer van die elemente van die oorspronklike verhaal op ’n geestelike manier verstaan.

Daar is gewoonlik geen verband tussen die allegoriese uitleg en die oorspronklike verhaal nie. In die geval van die Bybel* kry ’n mens die beste voorbeeld van ’n allegorie in Gal 4:21-31 waar Paulus* die Ou-Testamentiese* verhaal van Hagar* en Sara* (Gen 16) op ’n allegoriese manier verstaan. Vir hom het Hagar ’n dieper betekenis van geestelike slawerny* en Sara ’n dieper betekenis van geestelike vryheid*. Hagar is simbolies van die verbond* wat by Sinai*2 gesluit is, en ook van die aardse Jerusalem*. Dit veroorsaak vir mense geestelike slawerny. Sara is egter simbolies van geestelike vryheid en die hemelse Jerusalem. Op hierdie manier probeer Paulus om sy opponente in Galasië* verkeerd te bewys. Kyk 1 Kor 10:1-4 vir nog ’n voorbeeld.

In die Bybel word allegorie net op enkele plekke gebruik, maar in die kerkgeskiedenis* het dit soms die oorheersende uitlegtegniek geword. Gedurende die eerste vier eeue van die bestaan van die Christendom* was dit veral die teoloë van die Aleksandrynse skool (bv Klemens* van Aleksandrië) wat allegorie gebruik het om die Ou Testament* uit te lê. Die grootste probleem met allegoriese uitleg is dat dit dikwels tot gevolg het dat ’n mens die oorspronklike boodskap van ’n gedeelte ignoreer en op ’n ongekontroleerde manier gaan soek na allerhande dieper geestelike boodskappe.

 

Sidebar