ALLEN, ROLAND

ALLEN, ROLAND (1868–1947), ’n Anglikaan*, is as sendeling van die Society for the Propagation of the Gospel (SPG) na China*, waar hy tydens die Boxer-opstand (1900) moes beleef hoe die sending*stasie waar hy gewerk het, deur die plaaslike bevolking verwoes is. Hy het vrae begin stel oor die “sendingstasie-metode” wat die SPG en ander sendingorganisasies in China gebruik het. In sy boek Missionary Methods: St Paul’s or Ours? (1912) het hy ’n pleidooi gelewer dat Paulus* se sendingmetodes gevolg moes word: Moenie sendingstasies bou waar nuwe bekeerlinge geïsoleer word nie, maar rus hulle toe om hulle geloof* met hulle volksgenote te deel. Allen het groot klem op die werk van die Heilige Gees* geplaas wat, soos in die tyd van die Nuwe Testament*, in die jong kerk* werk, wat nuwe bekeerlinge toerus en uitstuur as getuies* van Christus* in die wêreld. Sy klem op die selfstandigheid en inheemswording* van die plaaslike kerk, die belangrikheid van ekumeniese* samewerking en die beklemtoning van die rol van die gewone gelowige, het baie wat ná hom gekom het, geïnspireer. Ander werke van Allen is The Spontaneous Expansion of the Church and the Causes which Hinder It (1927) en ’n versamelbundel van sy geskrifte, The Ministry of the Spirit (1960), wat ná sy dood uitgegee is. Nadat Allen 10 jaar in China en daarna 5 jaar in Engeland gewerk het, het hy as “voluntary clergyman” talle wêrelddele besoek om sy insigte met kerke en sendingorganisasies te deel. Tydens sy reise het hy Suid-Afrika besoek en ’n besliste invloed op die plaaslike sendingbeleid van veral die NG Kerk* gehad. Hy is in Kenia oorlede.

 

Sidebar