ALTAAR IN KERKE

ALTAAR IN KERKE. In beide die Ou* en Nuwe* Testament word die woord “altaar” gebruik om ’n plek van offerande* aan te dui (Hebreeus*: zabah, om te offer, stam van mizbeah, altaar). In die Ou Testament was daar eers verskillende altare gebou om die besoeke (Gen 12:7) en werke (Eks 20:24) van God te herdenk. Later is dit in Jerusalem* by die tempel* gesentraliseer (2 Kon 23:8) en die klem val nou op die ritus van reiniging, versoening* en wyding (Lev 16:18). Vir al die Christelike* kerke* is die lewe, dood en opstanding* van Christus* die nuwe versoening met die Vader (Joh 2:21). Die nuwe tempel is die liggaam* van Christus en Hy is die nuwe altaar (Heb 13:10). Christus is die priester*, die offerande en altaar aan die kruis* (Joh 17:19). Omdat dit die altaar is wat die offerande heilig* maak (Matt 23:19), is om deel te hê aan die nagmaal* ook om deel te hê aan die altaar wat die Here* is (1 Kor 10:16-21). Vir die Katolieke* en die Grieks-Ortodokse* kerke is die nagmaal dus ’n ware offerande, want daardeur word die offerande van die kruis, deur die krag van die Gees*, aan die gelowiges aangebied (1 Kor 11:27). Om dié rede is die nagmaalstafel van vroeg af al ook die altaar genoem (vgl Ignatius* van Antiogië: Brief aan die Filadelfiërs, circa 110 nC). In Rome* en op ander plekke is, toe die vroeë Christene in die katakombes aanbid het, die graftombes van die martelaars as altaar gebruik (vgl Op 6:9).

 

Sidebar