ALTAAR

ALTAAR word gebruik om ’n Hebreeuse* woord te vertaal wat iets soos “plek van slagting” beteken. Hierdie woord kom omtrent 400 keer in die Ou Testament* voor. Die altare wat in die Bybel* genoem word, is gebruik vir verskillende offers*. Vóór Josia* se tempelsentralisasieprojek (639–609 vC) blyk dit dat altare nie net tot Jerusalem* beperk was nie.

Altare is van verskillende grondstowwe gemaak, soos klip (Rig 6:19-23 of 1 Sam 14:31-35), of grond (Eks 20:24), of selfs metaal. Twee belangrike metaalaltare was die wierookaltaar* (Eks 30:1-10; 37:25-28; 1 Kon 7:48) wat met goud oorgetrek was, en die brandofferaltaar* wat met brons oorgetrek was (Eks 27:1-8; 38:1-7). Eersgenoemde was in die heiligdom net voor die Allerheiligste en laasgenoemde was in die voorhof van die tabernakel*. Die tempel*1 van Salomo* was waarskynlik soortgelyk ingerig (sien 1 Kon 8:64). Die meeste van hierdie altare het “horings” op die hoeke gehad.

In die Nuwe Testament* word meestal na die voorhofaltaar van die tempel*4 in Jerusalem verwys. In Heb 13:10 lyk dit asof altaar as metafoor* gebruik word vir menslike selfopoffering; iets wat ’n mens nader aan God bring. In die Ou Testament was altare immers ook plekke waar ’n mens met God kontak kon maak.

 

Sidebar