AMALEK

AMALEK. Die Amalekiete is volgens tradisie die afstammelinge van Elifas, die seun van Esau* (Gen 36:15-16). Hulle was ’n nomadiese groep uit Edom* en was tradisioneel die vyand van Israel*. Die eerste van hierdie vyandelikhede wat beskryf word, vind plaas gedurende Israel se verblyf in Sinai2* (Eks 17:8-15). Ook in die tyd van die rigters* toe Israel al gevestig was in Palestina*, was daar konflikte met die Amalekiete. Hulle was in alliansie met verskeie ander groepe (Ammoniete: Rig 3:12-14; Midianiete: Rig 6:3-5) gedurig met Israel slaags. Die Amalekiete was mense van die woestyn en het baie van hulle strooptogte op die gevestigde inwoners van Palestina met kamele uitgevoer (Rig 6:5; 7:12). Van die beslissendste ontmoetings met Amalek het plaasgevind tydens die regering van Saul* (1 Sam 15:2-35). Saul sterf later aan die hand van ’n Amalekiet (2 Sam 1:1-10). Ook in die tyd van Dawid* het die skermutselings met die Amalekiete voortgegaan. In 1 Sam 30:11-20 word bv vertel hoe Dawid by geleentheid ’n laer van Amalek aangeval en almal verslaan het behalwe 400 jongmans wat met kamele weggekom het (1 Sam 30:17). Die Amalekiete is waarskynlik later finaal deur Dawid oorwin omdat hulle naam genoem word in die lys van Israel se vyande wat deur hom onderwerp is (2 Sam 8:12).

Vir verdere lees: GL Mattingly 1992. “Amalek” in: DL Freedman et al (red), The Anchor Dictionary of the Bible, deel 1. New York: Doubleday.

 

Sidebar